Just Property

0/3

Just Property Lephalale Blog

Paleis ???? huis ???? pondok — 20%-40% daling in eiendomspryse

Paleis ???? huis ???? pondok — 20%-40% daling in eiendomspryse

23 September 2018

Beloftes en vooruitsigte van nog ? kragstasie en myn gee mense hoop, maar kenners meen Lephalale gaan nie gou weer uit sy nate bars of kan spog met die hoogste eiendomspryse in die land nie.

Mogol Pos het gaan kers opsteek by van die eiendomsmaatskappye in Lephalale om vas te stel of hulle die veranderinge in eiendomspryse voel en hoe hulle die krimpende ekonomie ervaar.
Volgens Just Property was die pryse die hoogste in die tydperk 2008-2013, @Sold Eiendomme sê huurpryse was in 2015 die hoogste en die verkooppryse was die hoogste gedurende 2014-2015. Remax sê die pryse was die hoogste in 2016. Helium Properties sê die verkooppryse was die hoogste in 2008 en die verhurings van 2008-2016.

Bogenoemde maatskappye stem saam dat die daling in pryse tot op hede rondom 20% – 40% is.

Volgens Arona Rossouw van @Sold Eiendomme sal die pryse nie weer so styg soos in die verlede nie, aangesien die vraag na eiendomme nie weer so hoog gaan wees nie. Daar is tans ses huise en 30 woonstelle op hulle boeke wat leegstaan.

Kate Grieshaber van Just Property meen die pryse gaan daal tot waar dit vergelyk sal kan word met eiendomspryse in soortgelyke dorpe as Lephalale soos Witbank, Vereeniging en Middelburg. “Lephalale gaan nie meer ? konstruksiedorp wees nie, maar ? myndorp. Mense wat in Lephalale eiendom gaan huur en koop sal moet kwalifiseer met salarisse wat deur die myne en Eskom betaal word, dit sal nie meer deur aanvraag bepaal word wat deur die inhuur van maatskappye geskep is nie,” sê Kate.

Daar is tans verskeie huise, baie woonstelle, plase en gastehuise in die mark. Sowat 10% van alle soorte eiendomme staan leeg en volgens Arona is die vrees dat die eiendomme wat leeg staan gestroop kan word realiteit. “Daar is toenemend gevalle waar onder andere koperpype en deure uit eiendomme gesteel word wat leegstaan,” sê sy.

Hierdie daling in pryse en aanvraag sal uiteraard ook ? invloed hê op die eiendomsagentskappe en hulle werkers. “Net soos met ander besighede gaan uitgawes besnoei moet word om te kan voortbestaan. Werknemers wat nie produktief bydra tot die generering van inkomste en die daaglikse voorbestaan van die besigheid nie sal nie langer ? pos kan beklee nie”, sê Arona.

Kate sê dit gaan afhang van hoe die besigheid bestuur word, maar almal sal nie noodwendig al hulle werknemers kan behou nie. “Ek dink ook dat salarisse gaan daal aangaande meer mense werkloos raak in die dorp,” sê sy.

Raad vir voornemende kopers?

“As jy self wil bly, koop,” sê Melanie Malan van Helium.

“Koop in ? prysklas (R500 000 – R1 miljoen) waarin ander mense ook soek indien jy nodig sou hê om die eiendom weer te verkoop. Indien jy wil verkoop sal dit moontlik nodig wees om ? laer aanbod te aanvaar as wat jy aanvanklik wou gehad het. Dit is ? kopersmark, mits jy self ? huis soek om in te bly,” sê Kate.

Volgens Renett La Grange van Remax gaan die mark nou stilstaan en moontlik verder val, maar daar sal weer ? styging in kopers en huurders in die toekoms wees.

Die algemene raad is om die eiendom van die begin af reg te prys, dan sal dit verkoop.

 

Oorspronklik uit Mogol Pos van 10 Augustus 2018, geskryf deur Leonie Kruger